Die hoofdoelstelling van LNR-IAE is om landbou-ingenieurskundige tegnologie, wat sal bydra tot hoër winste en inkomste asook laer koste vir landbou en verwante bedrywe, te ontwikkel.
LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese (LNR-ILI)
Die hoofdoelstelling van LNR-ILI is om landbou-ingenieurskundige tegnologie, wat sal bydra tot hoër winste en inkomste asook laer koste vir landbou en verwante bedrywe, te ontwikkel. Aktiwiteite en dienste sluit in die toetsing en evaluasie van landboutoerusting en -implemente in wêreldklas laboratoriums en onder veld-situasies; produk- en tegnieknavorsing en –ontwikkeling; beplanning en ontwerp; uitvoerbaarheidstudies; opleiding en advies; vervaardiging van prototipes en produkte; konstruksie-toesighouding en die saamstel van publikasies. LNR-ILI het die volgende programme om die wye veld van landbou-ingenieurswese te ondersteun: Besproeiingsingenieurswese, Hulpbronbewaring, Gewasproduksie-meganisasie, Landbou-energie, Klimaatbeheerde strukture, Akwakultuur, Landboustrukture en –fasiliteite, Produkprosessering en Landelike ingenieurswese.
‘n Projek word tans vir die Waternavorsingskommissie onderneem om die oorsake van verstopping by druppers vas te stel en riglyne vir die bestuur van sulke stelsels daar te stel. In LNR-ILI se moderne, wêreldklas laboratoria, word die werkverrigting van besproeiingstoerusting soos druppers, sprinkelaars, mikrospuite, kleppe en filters getoets, en hierdie inligting word vir ontwerpers aan die besproeiingsbedryf beskikbaar gestel. ‘n Besproeiingsontwerphandleiding is reeds beskikbaar, en as ‘n opvolg, word ‘n omvattende handleiding vir ontwerpers van besproeiingstelsels ook tans saamgestel.
Besproeiingsingenieurswese:
Die Nasionale Waterwet vereis die effektiewe bestuur en aanwending van water en in die program wentel die navorsing om die daarstel van tegnieke vir meer effektiewe gebruik van water in die landbou en die kwantifisering daarvan.
‘n Dagligbesproeiingstelsel is ontwikkel om riglyne vir ontwerpers van besproeiingstelsels daar te stel waarvan die bestuur en skedulering by bepaalde behoeftes aangepas word. LNR-ILI se mobiele evalueringseenheid het reeds verskeie besproeiingstelsels in Suid-Afrika die afgelope twee dekades geëvalueer en het onlangs vir die Suikerriet Vereniging van Zimbabwe stelsels geëvalueer,waaronder oorhoofse besproeiingstelsels, en vloed-, spilpunt- en drupbesproeiing. Die resultate is op ‘n spesiale simposium beskikbaar gestel.

Hulpbronbewaring:
Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne is sy kosbaarste bate. LNR-ILI ondersteun die ‘LandCare’-projek deur ingenieurskundige insette te verskaf, soos die opmeet, beplanning en ontwerp van grondbewaringstrukture. In samewerking met departemente van landbou word ondersoek op deurlopende grondslag na die ontwikkeling van werkbare tegnieke vir die sinvolle aanwendig van ons natuurlike hulpbronne ingestel.

Plantproduksiemeganisasie:
Meganisasiebeplanning vorm ‘n wesenlike deel van gewasproduksie. Ingenieurs van LNR-ILI het tien kleinboer-skemas in die Noordelike Provinsie ondersoek met die doel om data te versamel vir die ontwikkeling van ‘n toepaslike meganisasiebeplanningsmodel. ‘n Handleiding met ontleding van individuele projekte is op ‘n CD-ROM by die verslag ingesluit.
‘n Prototipe chemiese sproeier vir kleinskaalse boere is in samewerking van ander instansies ontwikkel, asook ‘n apparaat, bekend as die Spraymiser om aartappels aan die einde van die sorteerproses teen verskeie siektes te bespuit. Die Spraymiser word deur LNR-ILI gebou, en etlikes is reeds verkoop. Die instituut verleen ook tegniese samewerking aan Imag-DLO met ‘n projek vir dieretrekkrag, en mnr Ab Wanders van Wageningen, Nerdeland, sal vir die doel op ‘n kontrak van twee en ‘n half jaar by LNR-ILI werksaam wees. In belang van boere word trekkertoetse gereeld deur die LNR-ILI se moderne laboratoria uitgevoer, en verskeie trekkers, veral uit die Oosbloklande, is reeds hier getoets.
Landbou-energie:
LNR-ILI het bepaalde maatstawwe waarvolgens verskillende tipe biogasstelsels in die praktyk kostedoeltreffend ontwerp en bedryf kan word. Biogas word geproduseer wanneer organiese materiaal (bv. dieremis) deur bakterieë in die afwesigheid van suurstof verteer word. Die feit dat biogas hoogs ontvlambaar is, maak dit ‘n gesogte alternatiewe energiebron. LNR-ILI het ook daarin geslaag om bepaalde modifikasies aan bestaande gastoerusting aan te bring, wat biogas geskik maak as brandstof vir kook- en verhittingsdoeleindes asook vir beligting en opwekking van elektrisiteit

Akwakultuur:
Deur innovasie is ‘n akwahokkultuurstelsel ontwikkel en by Groblersdal geïnstalleer en aan toetse onderwerp. Verskeie werksgroepe is uit die provinsiale departemente gestig om saam ondersoek na die behoeftes van die onderskeie groepe, asook ontwikkelingsaspekte, in te stel. Outomatiese voerders is by die aanleg geïnstalleer.

Landboustrukture:
Tonnelhoenderbehuising klink vreemd maar dit bied ‘n finansiële voordeel vir die beginnerboer. LNR-ILI is op die voorpunt met hierdie tegnologie, en hierdie projek is nou reeds in sy tweede fase van ontwikkeling. Dit is veral van toepassing op die kleinskaalse boer.
Produkverwerking:
‘n Uiters geslaagde projek was die ontwikkeling van riglyne vir droging van rondebaallusern met ‘n hoë voginhoud.
Landelike Ingenieurswese:
Dit is ‘n term vir die toegepaste tegnologie, d.w.s. tegnologie wat die toepassing van volhoubare ontwikkeling moontlik maak. Landelike gemeenskappe in Suid-Afrika leef in moeilike omstandighede, en die oogmerk van hierdie program is om volhoubare oplossings te bied. Die fokus van landelike ingenieurswese is op die hulpbron-arm boere gerig, en om die tegnologie op enige vlak boerdery van toepassing te maak.
LNR-ILI het as fasiliteerder opgetree met die beplanning van die geïntegreerde Mlondozi-kalkprojek in Mpumalanga, en ‘n meganisasie-stelselontwerp daarvoor verskaf. Ook dra dié Instituut by tot die ‘Save the Sand’-projek in die Bosbokrandgebied in die Noordelike Provinsie. ‘n Multidissiplinêre uitvoerbaarheidstudie is onderneem vir die Dingleydale/Newforest-besproeiingskema vir kleinskaalse boere, waaraan die LNR-ILI deelgeneem het. Daardeur kon belangrike strategiese inligiting vir die ontwikkeling van die omgewing en sy watergebruik ingesamel word. Die doel van die studie by die Arabie-Olifantsrivierskema is om die waterverbruik vir die International Water Management Institute (IMW) te bepaal.

Opsommenderwys is dit duidelik dat byna geen landboubedrywigheid sonder toerusting, ‘n stelsel of fasiliteit onderneem kan word nie, en hierin is die ondersteuning van ingenieurstegnologie onontbeerlik. LNR-ILI onderneem projekte ter ondersteuning van hierdie bedrywighede, tot voordeel van landbougemeenskappe en die vervaardigingsbedryf, asook ten behoewe van die handhawing en opbou van bekwaamhede binne die LNR-ILI.